KK: Dit is mos ‘n vreeslike glansryke besigheid die singery, Rudi. 
Of is dit regtig?
Rudi: Daar is verskeie funksies wat bestaan uit toekennings, optredes, musiekfeeste, vrystellings en ‘n verskeidenheid van media is ook meeste van die tyd betrokke. Ek dink die verskil is die besluit wat jy neem en die oortuiging wat jy het om deel van die vermaaklikheids-industrie te wees, is waar jou persoonlike doelwitte oorgedra word. Die vraag is, doen jy dit vir die glans en glorie, of leef jy werklik jou passie uit?
Ek persoonlik voel dat jy eerder in alle omstandighede God se Lig deur jou laat skyn, in plaas daarvan om jou eie lig te laat skyn. Ek kan slegs doen wat ek doen deur God se Genade, daarom gee ek Hom al die eer en glorie. Wees altyd nederig!
KK: Was daar ‘n dag en datum waarop jy besluit het dat jou stem vir God gaan werk?
Rudi: Ek het nog my hele lewe lank die Here geken, maar my verhouding met Hom was nooit soos dit moes wees nie. Dit was meer soos ‘n “spaarwiel”-verhouding - slegs in tye van nood het ek bewus geword van my afhanklikheid van Hom, en as dit dan weer goed gaan, was dit die eie ek en arrogansie wat weer na voorskyn gekom het, en waar ek myself dan eerste geplaas het en die Here tweede. Na verskeie ervarings en ondervindings het my geestelike lewe ‘n drastiese wending geneem. Van die ervarings was om groot gedoop te word, ‘n klip wat deur my voertuig se windskerm gegooi is en waartydens daar groot skade binne in die voertuig aangerig was, maar nie ek of Lize in die voorval beseer is nie. Daar was ook ‘n oujaarsdiens wat ons een jaar bygewoon het, waar Deurbraak deurlopend die tema en boodskap was.
Die Deurbraak het egter een aand tydens ‘n optrede gekom, waar ek finaal besluit het om my als, wese, liggaam en siel toe te wy en toe te vertrou aan God. Van daardie aand af het ek nog nie weer teruggekyk nie en my fokus net op God gerig gehou. En dit is waarvandaan ek met ‘n lied in my hart vandag kan getuig van God se liefde en genade.
KK: Om te bedien is om op te offer. Wat maak die opoffering van familietyd en lang ure op die paaie vir jou die moeite werd?
Rudi: Die feit dat ek en my wonderlike vrou dit saam kan doen, en om as diensbare instrument gebruik te kan word in God se Hand.
KK: Enige drome en vooruitsigte?
Rudi: As dit God se wil is, om te begin met ‘n gesin, en om diensbaar te bly.
KK: Hoe het jy vir Lize gevra om met jou te trou?
Rudi: Dit was een van die beste oomblikke in my lewe wat ons altwee sal koester. Dit was tydens ‘n warm lugballonrit, waar net ek en sy (en gelukkig die vlieenier J) teenwoordig was. Alles was net perfek die oggend, die sonsopkoms, die mooiste bos rooi rose, en die persoon met wie ek die res van my lewe wil deel en vir wie ek baie lief is!
KK: Het sy dadelik ja gesê?
Rudi: Sjoe, gelukkig ja. Hopelik was dit nie die hoogte wat ‘n invloed gehad het nie ... hehehe.
KK: As jou mikrofoon die hele land op een slag kon bereik, wat sou jou boodskap wees?
Rudi: God is baie lief vir elkeen en elkeen is baie kosbaar, en niks kan ons skei van die Liefde van God nie. Ongeag alle negatiwiteit, publisiteit kan ons elke dag met sekerheid die volgende teksverse koester: Romeine 8:31 - “Wat sal ons van al hierdie wonderlike dinge sê, as God aan ons kant is wie of wat kan teen ons wees.”
En, Psalm 37:4 - “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.”
So staan ons almal mos maar op in die oggende met 'n skedule vol tye en afsprake van waar ons wanneer, en hoe laat moet
wees. Een oggend is dit toe weer die geval en daar spring ons uit die wegspringblokke, reg om die dag in te storm. Dit was ongeveer halfpad die dag in wat 'n ongesteldheid my beetpak en 'n halfuur later plat op die rug laat lê en bid vir genade.
Twee dae daarmee heen …
Dit is in tye soos daardie wat 'n mens net weer opnuut besef dat jou plan nie noodwendig God se plan is nie. Ons kan maar planne maak en voorberei soos ons wil, maar ons raak so besig dat ons vergeet om seker te maak dat ons planne in lyn is met God s'n. Wanneer ons dan skielik op 'n dag 'n "plat-op-jou-rug"- situasie in die gesig staar, is ons geneig om dan allerlei vrae na die Here se kant toe te gooi, eerder as om 'n paar tree terug te staan en te kyk of ons nie eerder uit Sy wil uitbeweeg het nie.
Die Woord sê so mooi in Johannes 15:7 - "As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry."
Mag dit ons begeerte wees dat ons verhouding met Jesus so sal wees, dat ons ten alle tye ons rigting, planne en begeertes met Hom sal bevestig.
Clemens en Stephanie Mans

Met elke uitgawe van die boekie bevind ek myself telkens op reis na ‘n nuwe “onderwerpbestemming” en ontdek ek elke keer iets nuut wat God met my en die leser wil deel. So is dit toe ook die geval met die voorbereiding van ‘n nuwe artikel en die soeke na God se wil daarin. Nie net ontdek ek toe ook die onderwerp van die artikel op my roetes vandag nie, maar besef toe ook weer opnuut hoe wonderlik die Here wat ons dien is, om sommerso langs die pad vir ons praktiese, amper tasbare, boodskappe te los. Mens besef net weer dat ons konstant ingestel moet wees om God se stem in alles om ons te soek.
Terwyl ons in ‘n ry by ‘n verkeerslig staan, vang my oog ‘n gewerkskaf in die baan langs die geel lyn. Daar staan ‘n vrou toe langs die pad met ‘n splinternuwe sportsmotor waarvan die enjinkap oop is en ‘n manspersoon hard aan die sukkel is aan die enjin. ‘n Persoon wonder dadelik wat op aarde die probleem kan wees dat ‘n nuwe motor sommer langs die pad gaan staan. En daar kom die Here en gooi ‘n gedagte in my gees. Hoeveel van ons is dalk ‘n spreekwoordelike “sportsmotor” en as gevolg van ‘n klein verstelling staan ons ook stukkend langs die lewenspad? Wat ookal die probleem kan wees:- selfbeeld, minderwaardigheid, verwerping, wantroue in jou medemens, liefdeloosheid, ongeloof, egskeiding, noem dit…

Terwyl die son die dag groet en so in sy majestieuse stilligheid agter die bosveld berge inkruip vir die nag, is dit asof ek die aarde hoor hoe hy diep asemhaal en rustig raak voordat hy more weer die dag vir ons kom verlig.
Hoe bevredigend is die gedagte dat die Woord ook vir ons sê dat, net soos daardie sonsondergang impliseer, Sy genade vir ons elke dag splinternuut is. Met elke dagbreek word ons genade emmertjies weer volgegooi sodat ons, waar ons beweeg, die druppels uit ons emmertjies so bietjie kan rondspat. Sy genade en liefde moet gedeel word.
Hoe hou mens dan soveel goeie nuus vir jouself? Die Woord leer ons tog dat ons weer soos die kinders moet wees. ‘n Kind wil bars van opgewondenheid wanneer hy al babbelend nadergehardloop kom om weer vir mamma die een of ander stukkie nuus te vertel.